Ter viering van die 200ste bestaansjaar van George, het die Suid-Kaap Ou Motorklub 'n langafstand toer vir motors wat voor Desember 1930 geregistreer is gereel.
Daar was 20 inskrywings waarvan 1 onttrek het en 17 die hele toer voltooi het. Net 3 voertuie is met ander vervang. Die Model T Ford van Arthur Duvenage het die hele toer voltooi sonder probleme, behalwe vir die brandstoftenk wat gelek het en herstel is. Die afdraendes by die passe was nogal soms angswekkend, veral as die draaie so vinnig naderkom en die voet wat die linker pedaal moet inhou, al moeg is en die regtervoet moet oorneem! In die vorige berig is daar mos verduidelik dat die remme van die ratkas af werk.
Die motors se ouderdomme het gewissel vanaf 1911 tot 1939. Daar is 'n toegewing gemaak vir 3 motors wat die toer graag wou meemaak. Die voetuie wat deelgeneem het was as volg: Model T Ford - 13 voertuie met die ouderdomme vanaf 1911 tot 1926. Daar was 3 100jariges waarvan een deur 'n dame bestuur was. Model A Ford - 2 voertuie, ouderdom 1930. Die ander voertuie was: Dodge 1918, Chevrolet 1931 en 1939, La Salle 1932 en 'n Bentley 1928.
Na afloop van die formaliteite rondom die toer wat in George begin het, word die aandete aan huis van die Scribante egpaar genuttig waar ons die versameling Mercedes Benz motors kon besigtig. Daar was onder andere 'n besonderse 1915 Benz waarvan die bakwerk uit hout vervaardig is, asook 'n ambulans.
Die toer het as volg verloop:
Dag 1 George-Witsand-Swellendam 294 km. Die gemiddelde spoed wat gehandhaaf is was 50 tot 70 km per uur, afhangend van die model. By Witsand is daar na die walvisse gekyk wat taamlik naby baljaar het. Die motors trek oral baie aandag en op die pad groet en waai almal. Daar word ook natuurlik baie fotos geneem en veral die toeriste hou daarvan om by 'n motor te poseer vir 'n foto.
Dag 2 Swellendam-Franschhoek 192 km. Ons ry oor die Franschhoek pas en bewonder die pragtige uitsig. "Kaap, o Kaap, o mooiste Kaap!" Daar word besoek gebring aan die Kelkiewyn Museum met ou trekkers en stilstaande enjins.
Dag 3 Franschhoek - Worcester 180 km. Die Franschhoek Motor Museum van Johan Rupert word besoek. Al die motors word nie altyd ten toon gestel vir besigtiging nie, maar dit was in elk geval 'n belewenis om die motors te aanskou wat uitgestal was. Die Nuwekloofpas word gery na Worcester. Daar is oral waarskuwings van spoedkameras!
Dag 4 Worcester - Calitzdorp 265 km. By Kogmanskloof bewonder ons die natuur en sien ook die Engelse Fort wat in 1899 gebou is. Daar word oor die Tradouw-en Huisrivierspas na Calitzdorp gery. Hier word oornag in twee gastehuise waarvan een oorspronklik gebou was vir die boere om in te oornag tydens nagmaal op die dorp. Calitzdorp is bekend vir sy heerlike Port van Calitzdorp Wynkelders.
Dag 5 Calitzdorp - Oudtshoorn - Prins Albert - Oudtshoorn 235 km. Die tog word aangedurf oor die Tredouwpas na Prins Albert en dan oor die Swarbergpas na Oudtshoorn. Dit was 'n absolute belewenis om hierdie ou motortjies se uithouvermoe oor die Swartbergpas mee te maak! Dit gaan soms bietjie stadig, maar dit gee jou kans om die natuur te bewonder. Heel bo is daar natuurlik eers asem geskep om dit wat verkeerd was te herstel, tot groot verbasing van die omstanders en toeskouers! Onderdele is van oral uitgehaal om te help, en voor jy weet, was almal weer oppad! Die aand se funksie is bygewoon in modes uit die vroee jare 1920. Die besgeklede paartjies het elk 'n prys ontvang.
Dag 6 Oudtshoorn - George oor die Robinsonpas 132 km. Die roete word gery verby die Botlierskop Natuurreservaat. Die motorversameling van Kobus en Fienie Halliday word besoek en die middagete word daar genuttig. Net een woord vir hulle en Kosie en Johanna Lampbrecht se versamelings: Pragtig!! Alhoewel hierdie versamelings uit "nuwer" motors bestaan, was dit baie besonders.
Hierdie toer was nie net 'n ondervinding nie, maar 'n belewenis! Indien enige deelnemer 'n probleem met sy motor ondervind het, is dit daar en dan herstel - hetsy langs die pad, of in die parkeerterrein van die hotel! Die jare se ondervinding tussen die sewe oudste deelnemers was maar net 540 jaar! Die jongste deelnemer was 46 jaar en die oudste 82 jaar. Daar was tot twee Suid-Afrikaanse deelnemers wat spesiaal van Switserland af gekom het om deel te neem!
Een van die "oudstes" wat deelgeneem het, het rugby geluister op sy "I-Pod" terwyl hy bestuur het en self sy navigasie behartig het! Dit bewys net weer vir ons dat jy net so oud is soos jy voel, of dink jy is!